“Groen steenkool”: brandstof van die toekoms

Marelize Santana -- Fri, 05/25/2018 - 10:38

“Groen steenkool”: brandstof van die toekoms

Steenkool in sy tradisionele vorm kan dalk spoedig iets van die verlede wees, maar baanbreker-navorsing deur die Noordwes-Universiteit (NWU) is besig om te wys hoe ’n heraanpassing van hierdie fossielbrandstof talle veilige, groen moontlikhede inhou.

’n Revolusionêre proses om “groen” steenkool te vervaardig wat die hoeveelheid koolstofdioksiedvrystellings met tot 80% kan verminder, word tans deur die Sentrum van Uitnemendheid in Koolstofgebaseerde Brandstowwe in ’n loodsstudie getoets.

Prof Frans Waanders, die direkteur van die sentrum, sê dat al die hulpbronne wat gebruik word om die “groen” steenkool te vervaardig afvalmateriaal is. “Dit maak die produk uniek en redelik goedkoop omdat maatskappye gewillig is om derde partye te betaal om van hulle afval ontslae te raak.

 

Prof Frans Waanders sê hul doelwit is om teen 2019 genoeg van die groen steenkool te vervaardig om ’n vergasser by Sasol te vul om die volle potensiaal van die produk te toets. Intussen word kleiner hoeveelhede voorberei vir toetsing in konvensionele stokerbranders, soos dié wat by hospitale en selfs by Eskom gebruik word.


Waarde uit afval

Frans sê dat Sasol en Eskom miljoene ton fynsteenkool het wat hulle nie kan gebruik nie en wat as gevolg van die moontlikheid van selfontbranding in slikdamme gestoor moet word. Hierdie fyn koolstofhoudende steenkoolafval word deur die byvoeging van spesiaalbehandelde plantafvalmateriaal soos gras, of selfs diere-afval in groen steenkool omskep. “Ons enigste bepaling is dat geen voedselprodukte in die proses gebruik mag word nie,” sê Frans.

Die resultaat is ’n produk wat as char bekendstaan en wat deur die navorsingsgroep vir biobrandstof by die Fakulteit Ingenieurswese in hulle hidrovervloeiing-proefaanleg geproduseer word.

“Om die steenkool en die char, wat uit plante verkry word, te bind, gebruik ons nog ’n afvalproduk van Sappi, naamlik lignosulfonaat, om groen steenkoolbrikette met ’n grootte van ongeveer 25 mm te vervaardig,” sê Frans. Hierdie spesifieke grootte is getoets om die hoogste en doeltreffendste gasvormingstoestande in die Sasol-vergassers te verkry, terwyl die lignosulfonaat-bindstof verhoed dat die brikette disintegreer wanneer dit vervoer word.

’n Belangrike faktor in die vervaardigingsproses is dat die nuwe produk nie duurder as bestaande produkte moet wees nie. “As ’n ton steenkool byvoorbeeld R300 kos, moet ons produk ook R300 kos.

Samewerking is die kern van die saak

Frans sê dat die sentrum opgewonde is oor die vordering wat tot dusver gemaak is, veral oor die samewerking tussen die verskillende navorsingsgroepe by die NWU wat saamgewerk het om die groen steenkool te vervaardig. “Dit is ’n spanpoging deur navorsers van twee verskillende navorsingstoele aan die Fakulteit Ingenieurswese, naamlik die SARChI-steenkoolnavorsingstoel van prof John Bunt en die SARChI-leerstoel in Biobrandstowwe en ander Alternatiewe Brandstowwe van prof Sanette Marx.”

Die NWU se groen steenkool is uniek en word tans gepatenteer. “Ons het die patent in amper al die steenkoolproduserende lande in die wêreld geregistreer," sê Frans. “Dit beteken dat ons die internasionale patent op ons produk besit, wat ’n langdurige en duur proses was, maar ons het gevoel dat dit alles die moeite werd was. Daar bestaan geen patente in die wêreld oor hoe om kweekhuisgasse deur die gebruik van afvalprodukte te verminder nie.”

Frans sê dat Suid-Afrika nog lank met steenkoolkragstasies sal moet saamleef – “of ons nou daarvan hou of nie. Ons moet dit net beter bestuur en ons moet beter gebruik maak van ons grondstowwe en natuurlike hulpbronne in die land.
“Met hierdie nuwe produk kan ons beslis ons koolstofdioksiedvrystellings verminder, en só ook die suurreën wat deur hierdie skadelike vrystellings veroorsaak word."