’n Storie van hoop

Belinda Bantham -- Thu, 11/22/2018 - 14:22

’n Storie van hoop

Al hoe meer Suid-Afrikaners besef die belangrikheid daarvan om saam te staan en hulle eie omstandighede ten goede te verander.

Die gemeenskap van Coligny, ’n klein dorpie in Noordwes, het onlangs hierdie ware gees van ubuntu ervaar.

Studente van die Noordwes-Universiteit (NWU), saam met South Africa Day, ’n nie-winsgewende organisasie wat op nasiebou fokus, het gehelp om te verf, te plant en die dorp skoon te maak.

South Africa Day se HBB, Barend la Grange, het prof Juanee Cilliers* van die NWU se Stads- en Streeksbeplanningsvakgroep, genooi om met die Coligny Forward-projek saam te werk.

Die doel van die projek is om gemeenskapslede aan te moedig om eienaarskap te aanvaar om hulle dorp op te hef en dus om saam te werk om oplossings te vind om die omgewing van die Coligny- en Tlhabologang-area te herskep.

“Ek het ’n weeklikse tydgleuf op die radiostasie RSG, waar omgewingskwessies en verwante navorsing wat deur die universiteit gedoen word, bespreek word,” sê prof Cilliers. “Ná ’n praatjie oor die aanvaarding van eienaarskap in jou eie omgewing het ek ’n oproep van Barend ontvang wat die NWU uitnooi om aan die South Africa Day-projek in Coligny saam te werk. Ek het nie twee keer gedink nie en ons het met blydskap ons kragte saamgesnoer.”

Tydens die eerste semester van hierdie jaar het prof Cilliers haar kant gebring en ’n projek geskep waar derdejaar- stadsbeplanningstudente kreatiewe idees moes saamstel om te help om Coligny te laat herleef.

“Al die idees is in ’n PowWow-dokument geplaas en aan die gemeenskapslede in Coligny voorgelê,” sê sy. “Van die idees in die dokument het ’n sonaangedrewe donkiekar, gemeenskapsgroentetuine, groen dakke en groen mure, die hergebruik van grys water, en inisiatiewe om ’n handelsmerk vir die plek te skep, ingesluit.”

Tydens die tweede semester is ’n toer gereël waar studente die geleentheid gehad het om fisies tot die omskepping van die ruimte by te dra.

“Studente het gehelp om die geboue langs die hoofstrate van Coligny en Tlhabologang te verf. SAUK Nuus het die gebeurtenis opgeneem en dit is ook op RSG uitgesaai,” sê prof Cilliers.

“Ek is so trots op ons studente – hulle entoesiasme en bereidwilligheid om ’n verskil te maak, is werklik inspirerend.”

Prof Cilliers sê dat die plaaslike gemeenskap die verfkwasse oorgeneem het toe die studente se bus na Potchefstroom moes terugkeer. “Ons het motivering en inspirasie vir die plaaslike gemeenskap agtergelaat om die momentum te behou en voort te gaan om hulle dorp op hulle eie te laat herleef.”

Die volgende deel van die plan is om ’n kunsroete te ontwikkel wat deur Coligny en die Tlhabologang-area loop, met sleutel-erfenispunte, unieke verkoopsareas en klein toeriste-aantreklikhede.

Prof Cilliers sê dat hierdie projek die studente waarlik geïnspireer het om hulle deeltjie te doen om die land op te hef.

“Dit is ’n storie van hoop. Dit toon wat moontlik is as ons eienaarskap vir ons eie omgewing aanvaar en begin om ons omgewing te verbeter, selfs al is dit op ’n klein skaal.”

*Prof Juanee Cilliers het elke Saterdagoggend om 6:45 ’n gleuf op RSG waar sy praat oor omgewingskwessies en oor van die navorsing wat die NWU tans doen.

 

Vroulike NWU-studente hard aan die werk om die aansig van Coligny te help verfraai.