’n Onbekende terrein wag op twee NWU-navorsers

Marelize Santana -- Mon, 07/22/2019 - 10:57

’n Onbekende terrein wag op twee NWU-navorsers

Twee navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) gaan ’n onbekende terrein met hulle navorsing betree deur vierdegeslag- kultuurhistoriese aktiwiteitsteorieë (CHAT) te gebruik om oplossings te vind vir die komplekse onderwysprobleme wat Suid-Afrika in die gesig staar.

Prof Elsa Mentz en prof Josef de Beer by die Navorsingsfokusarea Selfgerigte Leer werk aan ’n projek, Onderwysers Sonder Grense, wat op die professionele ontwikkeling van natuurwetenskappe-onderwysers fokus. CHAT is ’n navorsinglens wat ’n genuanseerde siening van navorsingsdata verskaf.

Prof De Beer sê prof Yrjö Engeström van Finland, die wêreld se voorste CHAT-kundige, is ʼn ware kampvegter vir derdegeslag-CHAT. Prof Yrjö het aangedui dat hulle navorsing besig is om in die rigting van vierdegeslag-CHAT te beweeg, wat beteken dat hulle met baanbrekerswerk besig is.

“CHAT is veral nuttig in komplekse stelsels soos die onderwys waar verskeie faktore onderrig en leer beïnvloed,” sê prof De Beer. “Dit kan gebruik word om professionele praktyke te ontleed en nuwe idees te ontwikkel oor die manier om toekomstige praktyke te verbeter.”

Hy sê dat kortleerprogramme (KLP’s) aan onderwysers regoor die land aangebied word oor hoe om inheemse kennis te gebruik om abstrakte wetenskap meer toeganklik vir leerders te maak.

Hierdie KLP’s word gekonseptualiseer om selfgerigte leer onder onderwysers te bevorder. Hulle moet hulpbronne identifiseer om hulle eie leer te fasiliteer, strategieë vir hulle leerdoelwitte beplan, en hulle eie leer evalueer.

Prof Mentz en prof De Beer gebruik CHAT om die data te ontleed wat verkry is uit die KLP-kursusse wat in Limpopo, Gauteng, die Noord-Kaap en Noordwes aangebied is.

Hulle het onlangs ’n seminaar by die Universiteit van Helsinki aangebied wat gefokus het op die manier waarop derdegeslag-CHAT help om die “spanning” te identifiseer wat die oordrag van kennis en vaardighede in skoolklaskamers negatief beïnvloed.

Prof De Beer sê dat hulle navorsing toon dat onderwysers dikwels op die oordragmetode van onderrig en leer terugval. Die redes daarvoor sluit in die werkskedules waaraan die onderwysers moet voldoen, en druk van skoolhoofde en ouers om “te onderrig om te kan toets” om goeie eksamenuitslae te verseker.

Met dié dat hulle hul navorsing ’n stappie verder neem, sê prof De Beer dat die plan is om veranderingslaboratoriums (change laboratories)* en vierdegeslag-CHAT te gebruik om veelvuldige belanghebberverhoudinge en aktiwiteitstelsels te ontleed. Hulle doel sal wees om oplossings te vind vir die komplekse onderwysprobleme wat skoolonderrig in Suid-Afrika in die gesig staar.

“Dit is grootliks nog ’n onbekende terrein, maar ons is opgewonde – met ’n goeie skoot angstigheid daarby – oor hierdie nuwe onderneming.”

*Veranderingslaboratoriums (change laboratories) is 'n proses waarby alle belangegroepe betrek word om 'n spesifieke probleem op te los wat verandering op baie vlakke en vanuit verskillende perspektiewe nodig het.


Prof Josef de Beer, prof Elsa Mentz en prof Yrjö Engeström by die Universiteit van Helsinki in Finland.