’n Lang pad vorentoe, maar dis moontlik indien noodsaaklike besluite geneem word

Belinda Bantham -- Fri, 06/26/2020 - 12:36

’n Lang pad vorentoe, maar dis moontlik indien noodsaaklike besluite geneem word

Die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool het met ’n splinternuwe aanlyn inisiatief begin waar Covid-19 aktuele sake in die Suid-Afrikaanse omgewing deur ’n paneel kundiges via Zoom bespreek sal word, en daar na rondetafelbesprekings teruggekeer sal word wanneer dit toegelaat word.

Joernaliste van verskeie mediagroepe sal genooi word om by die aanlyn paneelbespreking aan te sluit waar intydse menings van kundiges op verskeie gebiedebeskikbaar is.

Die Minister van Finansies, Tito Mboweni, het op 24 Junie 2020 sy nood- Aanvullende Begroting gelewer en die regering se finansiële reaksie op die Covid-19-pandemie uiteengesit. Die NWU Besigheidskool het dr Azar Jammine uitgenooi om sy siening oor hierdie buitengewone Aanvullende Begroting met ons te deel. Dr Jammine is die direkteur en hoofekonoom van Econometrix. Hy is sedert Desember 1985 in sy huidige pos en het as analis en kommentator oor plaaslike en internasionale ekonomiese aangeleenthede ’n betekenisvolle profiel in Suid-Afrika gevestig.

Ná sy aanbieding het die meningsvormers Andre Duvenhage, Piet Croukamp, Waldo Krugel, Theo Vorster en Albert van Zyl hulle sienings bespreek. Die bespreking is deur Theo Venter gefasiliteer.

Volgens die minister het die Covid‐19-krisis die wêreldekonomie heeltemal op sy kop gekeer. Hy het genoem dat daar met die Februarie-begroting verwag is dat die wêreldekonomie in 2020 met 3,3% sou groei.  Nou is die verwagting dat daar ’n wêreldwye inkrimping van 5,2% gaan wees.

“Dit sal die grootste insinking in per capita-inkomste sedert 1870 wees. Miljoene werkers regoor die wêreld het hulle werk verloor. Suid-Afrikaanse werkloosheid het met een persentasiepunt gestyg en in die eerste drie maande van hierdie jaar 30,1% bereik,” het Mboweni gesê.

Dr Azar Jammine het ’n omvattende oorsig van hierdie Aanvullende Begroting gegee, en aangedui dat dit in wese ’n meganisme was vir die parlement om finansiële en monetêre besluite goed te keur wat tydens die noodtoestand geneem is, en om ’n blik op die pad vorentoe te gee.

Dr Jammine het die volgende gesê:

  • Die Aanvullende Begroting was ’n formele oefening om parlementêre instemming te kry vir die R500 miljard-reddingspakket wat, volgens hom, skuld met R142 miljard laat toeneem het, aangesien die res van die R500 miljard verkry is deur bestaande fondse te herkanaliseer of deur indirekte besteding aan te gaan.
  • Die toename in tekorte en staatskuld was soos dit verwag is.
  • Hy het dit bevraagteken of die gepubliseerde begrotingsparameters nie op té hoë optimistiese voorspellings van ekonomiese groei gegrond was nie.
  • Slegs matige belastingverhogings is vir die volgende vier jaar in die vooruitsig gestel.
  • Dit lyk of die regering hierdie keer die risiko van ’n naderende skuldkrisis baie ernstig opneem.
  • Die regering het sy vasberadenheid verseker om die staatskuldtrajek oor die lang termyn in toom te hou.
  • Skeptisisme ten opsigte van die vermoë om besteding in te kort, sal as gevolg van populisme steeds met ons wees.  Hy het ook bygevoeg dat hierdie  begroting in werklikheid ontwerp was om die regerende ANC, en nie die algemene publiek nie, van die skuldkrisis te oortuig.  Mboweni het probeer om Suid-Afrikaners te oortuig om die regering en die Kabinet te vertrou.
  • Finansiële markte is deur internasionale gebeure eerder as deur ’n haglike fiskale situasie gedomineer, en dit bepaal die onstabiele fluktuasie van die rand.
  • ’n Skuldkrisis bly ’n reële moontlikheid oor die langer termyn, soos dit deur die steiler opbrengskromme weerspieël word.
  • Suid-Afrika is baie afhanklik van buitelandse direkte beleggings (FDI), maar die huidige situasie sal beleggers dwing om na plaaslike direkte beleggings te kyk, met ander woorde geld wat in die land beskikbaar is. Daar is ook uitgewys dat dit nie die privaat sektor is wat ophou belê het nie – die regering en OSB’s het self baie min vir kapitaalbeleggings gedoen.

Tydens die bespreking was daar ooreenstemming dat die Suid-Afrikaanse ekonomie reeds voor die Covid-19-krisis diep in die moeilikheid was, en dat dit die bestaande swak areas van die ekonomie vererger het. ’n Voorbeeld is die uiters negatiewe statistiek oor werkloosheid wat hierdie week vrygestel is. Hierdie negatiewe situasie gaan in 2020 verder toeneem namate meer statistiek beskikbaar word.

Benewens die ekonomiese impak van Covid-19, is die volgende kwessies ook geopper:

1. Die wêreld is besig om meer na binne te kyk ten opsigte van minder afhanklikheid van ander lande, en dit gaan ’n groot impak op China hê.

2. Daar was wêreldwyd ’n veranderende patroon in gesondheidsorgbestuur.

3. Voedselsekerheid het ’n werklike probleem geword.

4. Die Vierde Industriële Revolusie en digitalisering van die samelewing het ’n reusetree vorentoe geneem.

Navrae: Prof Andre Duvenhage, andre.duvenhage@nwu.ac.za, 082 883 4156